Keuses

Op pad

Lieze Loots

 

Alles in en om my word bepaal deur keuses. Grotes en kleintjies. Belangrikes en minder belangrikes. Maklikes en moeilikes. Lewensveranderende besluite. Allerdaaglikse bestaan-besluite. Sonder-dat-jy-bewus-is-daarvan-besluite. Impulsiewe besluite. Weldeurdagte en oor-oor-dink-besluite. Maar soms kom klop daar gekamoefleerde  keuses aan jou deur… Moeilik om raak te sien. Maar maklik om verkeerd te kry. Om op te staan as jy plat en moedeloos is. Om aan te gaan as jy regtig net moeg is en nie wil nie. Om vriendelik te wees as nie so voel nie. Om gelukkig te wees ten spyte van jou omstandighede. Om vertroue en geloof te hê, as alles om jou die teendeel uitskree. Om ander se nood raak te sien tussen jou eie trane deur. Om te sien, maar kies om verby te stap… Om te bly kies om die Weg en die Waarheid en die Lewe te volg, terwyl dit voel of jou wêreld in duie stort. Soms voel die besluite maklik, of kies ons om nié te kies nie…. maar dan is dit die gevolge  wat jou onverhoeds en onverwags betrap, en ‘n antwoord eis… nóg ‘n keuse om te maak…

 

Gelukkig kan ons ook kies om God se genade tussen al die deurmekaar raak te sien. Kan ons vertrou op sy Woord wat wáár en rég is. Kan ons weet dat die vrede wat van Hom af kom, ons besluite bepaal. Kan ons weet dat as ons swak voel, Sý krag en glorie en heerlikheid tot volle werking in ons kan kom. Want in ons oorgee van moeg en moedeloos-plat wees, en in ons oorgee van omstandighede en bekommernisse, kan Hý ons krag en sterkte wees… En kan ons weet dat ín Hom, ons in staat is om reg te kan kies. 

Leave a Reply