News Social

Kom geniet die Lekkerlag Komedie-crawl by Innibos 2017

Nuuskantoor
5 Junie 2017

Vier van die land se top-komediante, Margit Meyer-Rödenbeck as Dowwe Dolla, Schalk Bezuidenhout, Soli Philander en Casper de Vries is te sien in die Lekkerlag Komedie-crawl by Innibos vanjaar.

“Omdat die Sappi Boeke- en die kykNET Kos-crawl uiters gewild en dit so kenmerkend van Innibos se programaanbieding is, is besluit om ’n komedie-crawl ook in te sluit,” sê Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder “Daar is wel ’n hardebaard-ouderdomsbeperking van geen o/18’s want al hierdie komediante is bekend daarvoor dat hulle ding op sy presiese naam noem.”

De Vries dink die formaat van die komedie-crawl is interessant en oorspronklik. “Die konsep prikkel my en ek is opgewonde om deel te wees daarvan.”

Suid-Afrika, en veral die politiek, is ’n skatkis vir komediante. “Wel, dis óf lag vir die politiek, of ween aaneen,” sê Philander. “Ek dink wel daar is ’n behoefte onder gehore vir lekker lag oor die alledaagse ook, die eenvoudige goed … lekker saamlag, nie net lag vír iemand nie.”

Sit genoeg tyd opsy vir die Lekkerlag Komedie-crawl. Die vertoning is 240 minute. Om die lagspiere sommer van meet af te kielie, sal elke crawler ’n doppie-koppie kry wat Distell sal volhou. Daar is ook kontantkroeg beskikbaar vir diegene wat ’n ander drankie wil geniet.

Die busse na Ingwenyama Lodge op Vrydag, 7 Julie vertrek om 16:00, 17:00 en 18:00 van die NG Kerk Westergloed in Koraalboomstraat, Nelspruit.

Vir verdere inligting kontak Innibos-kantoor 013-741-5294 of besoek www.innibos.co.za

Foto: Soli Philander. Foto krediet: Innibos

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *